Piesang muffins

Piesang muffinsHeerlike warm muffins vir ‘n Saterdag of Sondag oggend ontbyt met roomkaas op, klink vir my na ‘n wenner. My gesin was gaande hieroor en daar het niks oorgebly om te later saam met koffie te geniet nie. Jy kan ook hierdie muffins vries. Hoop julle hou net so baie hiervan.

BESTANDELE

  • 1 ryp piesang fyngedruk
  • 1 koppie saad of neut meel van jou keuse
  • 1/2 koppie gemaalde lynsaad
  • 1/2 koppie fyn gemaalde klapper
  • 2 teelepels bakpoeier
  • knippie sout
  • 1/2 koppie amazi
  • 2 eiers
  • 3 eetlepels rou heuning of xylitol
  • 1/2 koppie gesmelte botter

METODE

  1. Meng al die droë bestandele saam in mengbak.
  2. Meng die eiers, amazi, heuning en gesmelte botter saam.
  3. Voeg die eier mengsel by die die droë bestandele en meng goed.
  4. Voeg die piesang by en meng goed.
  5. Skep in voorafgesmeerde muffinpan met 12 holtes.
  6. Plaas in voorafverwarmde oond van 180 grade celsius.
  7. Bak vir 15 to 20 minute of tot lekker bruin.
  8. Haal uit en geniet.

Ek het myne afgerond met ‘n sjokolade smeer wat ek by ‘n vlgde geleentheid op my blok sal sit. Dit is egter heerlik as jy roomkaas bo op sit.  Geniet dit!

Gevulde murgpampoentjies

gevulde murgpampoentjiesEk vind nogal dat mens altyd sukkel om resepte vir groente bygeregte te kry. Die hoofdisse is altyd volop en dan weet mens nie wat om daarby te maak nie. Ek het hierdie lekker groot murgpampoentjies gekry en besluit om dit te vul en so bietjie iets anders voor te sit. Dit het regtig verbasend lekker uitgekom en ek sal dit beslis weer probeer. Dit is baie maklik om te maak en jy het net ‘n minimum bestandele nodig.

BESTANDELE

  • 4 tot 5 murgpampoentjies gewas en in die helfte gesny
  • 1/2 pakkie roomkaas
  • 6 eetlepels room
  • 2 tot 3 knoffelhuisies fyngekap
  • sout en pepper na smaak
  • 3/4 koppie gerasperde sterk cheddarkaas
  • knypie rooipepper indien verkies

METODE

  1. Hol die murgpampoentjie effens uit sodat dit makliker is om te vul.
  2. Meng die roomkaas, room, knoffel,sout en pepper, rooipepper en chaddarkaas tot lekker gemeng. Ek het sommer my stokmenger gebruik.
  3. Plaas die gehalveerde murgpampoentjies in oondbak en vul met die roomkaasmengsel.
  4. Plaas dit in voorafverwarmde oond van 180 grade celsius vir so 20 min tot lekker bruin bo op.
  5. Haal uit en geniet saam met ‘n lekker gebraaide hoender of vleis.

Morokaanse hoender gereg

morokaanse hoender‘n Heerlike geurige hoender gereg. Veral vir daardie koue wintersaande. Hoe langer hierdie hoender gereg staan en prut hoe lekkerder smaak dit. Jy kan dit bedien oor murgpampoentjie spaghetti (resep by vorige inskruiwing op my blog), blomkoolrys of blomkool “mash”(vorige inskruiwing op my blog). Dit is ook ‘n gesonde gereg want die speserye wat hierin gebruik word het baie gesondheidsvoordele. Hoop julle geniet dit.

BESTANDELE

  • 1 eetlepel coconut olie
  • 1kg hoenderstukke met vel aan
  • 1 ui fyngekap
  • 2 knoffelhuisies fyngekap
  • sout na smaak
  • 1 teelepel paprika
  • 1 teelepel fyn komyn
  • 1 teelepel fyn kaneel
  • 1 teelepel borrie
  • 1/2 teelepel rooipepper (of minder indien verkies)
  • 1/2 butternut geskil en opgesny in blokkies
  • 1 groenrissie in skyfies gesny
  • 1 pakkie murgpampoentjies opgesny in ringetjies
  • 1/2 koppie volroom bulgaarse yoghurt

METODE

  1. Braai die ui in die coconut olie tot sag.
  2. Voeg die hoender, knoffel, sout, paprika, komyn, kaneel, borrie en rooipepper by asook genoeg water dat die hoender lekker kan prut.
  3. Laat prut tot hoender gaar is.
  4. Voeg die groente by en kook tot alles sag en die geure goed deurgetrek is.
  5. Net voor opdiening voeg die yoghurt by en roer deur.
  6. Skep bo oor blomkool “mash” of gereg van jou keuse.
  7. Geniet hierdie heerlike aromas en smake.

Chillie Pesto

Chillie2Ek het heerlike vars chillies by ons plaaslike plaasmark gekoop. Dit was so goedkoop so ek het sommer ‘n hele sak vol gekoop. Ons is nie vreeslike chillie eters nie en moes toe plan maak met hierdie chillies. Toe besluit ek om ‘n chillie pesto te probeer. Dit het regtig lekker uitgekom. Ek het baie seker gemaak dat ek al die pitte en binnegoed verwyder so dat dit nie so vreeslik brand nie. Ek was nogal verras met hoe min dit brand en hoe lekker dit is. Hierdie week was ons bederf ‘n lekker snytjie banting brood met chillie pesto en cheddar kaas. Dit is so lekker en dit is moeilik om by 2 snytjie op te hou. Wel ek hoop julle geniet dit net so. Ek het dit ook gebruik op die hamburgers wat ons hierdie week geeet het en op ons sirlion skywe. Dit rond enige gereg af. Laat weet wat julle hiervan dink. Dit is baie maklike en vinnig om te maak.

chillie1

BESTANDELE

  • 1/2 blokkie roomkaas
  • 1/2 koppie amandels of neute van keuse
  • 2 tot 3 koppies chillies gesny en pitte en middel heeltemal verwyder
  • 1 teelepel fyn parmesaan kaas
  • 2 knoffelhuisies
  • 1/4 koppie olyf olie
  • sout en pepper na smaak

METODE

  1. Gooi alles saam in voedselverwerker en maak fyn tot pasta.
  2. Skep in glas botteltjie en gebruik soos benodig.
  3. Berg in yskas.

Cheddar muffins

cheddar muffin‘n Heerlike kaasmuffin resep. Dit is veral lekker as jy ‘n sterk verouderde cheddar kaas gebruik. Kan ook gebere word in yskas vir ‘n paar dae. Lekker as versnappering of om in die kosblik te pak. Sny dit oop smeer lekker botter op en ‘n bietjie basil pesto. Dit is heerlik. Hoop julle geniet dit.

BESTANDELE

  • 1 koppie amandel meel
  • 1 koppie pampoensaad meel
  • 1/2 koppie sesame saad meel
  • 1/2 koppie coconut meel
  • 3 teelepels bakpoeier
  • 150g roomkaas
  • 120ml botter
  • 2 eiers
  • 1 koppie gerasperde cheddarkaas
  • 1 knoffelhuisie fyn gekap
  • knypie rooipepper
  • 1 teelepel sout

METODE

  1. Smelt botter en maak die roomkaas sag.
  2. Meng al die droë bestandele saam in mengbak.
  3. Voeg die botter mengsel, knoffel en eiers by en vou liggies in tot goed gemeng.
  4. Voeg die gerasperde cheddarkaas by en meng in.
  5. Skep lepels vol in gesmeerde muffin pannetjie en bak in voorafverwarmde oond van 180 grade celsius.
  6. Bak vir 20 tot 25 min of tot gaar.
  7. Laat afkoel en dien op soos verkies.

Wortelkoek

wortelkoekNou ja my man verjaar môre en mens kan mos nie verjaarsdag hou sonder koek of iets soet nie. Ek het besluit om vir hom ‘n wortelkoek te bak, maar dit is opgeeet nog voor die verjaarsdag. Ek dink dit het baie lekker uitgekom en almal het regtig baie daarvan gehou. Dit is ‘n baie maklike resep en ook defnitief goedkoper as ‘n kaaskoek. Hoop julle geniet dit net so baie soos my gesin en gaste. Lekker banting.

BESTANDELE

Wortelkoek:

  • 1/2 koppie amandel meel
  • 1/2 koppie sonneblom saad fyngemaal
  • 1/2 koppie klapper meel
  • 1 teelepel sout
  • 2 teelepels bakpoeier
  • 1 teelepel fyn neutmuskaat
  • 1 en ‘n 1/2 teelepel kaneel
  • 1 teelepel gemmer
  • 3 eiers
  • 3/4 koppie xylitol of heuning
  • 2 eetlepels coconut olie
  • 1 en 1/2 koppie gerasperde wortels
  • 1/2 koppie grof gekapte neute

Versiersuiker (bolaag):

  • 115g roomkaas
  • 6 eetlepels room
  • 1/4 koppie xylitol of heuning

METODE:

Wortelkoek:

  1. Meng die amandel, sonnebloem en klapper meel in mengbak.
  2. Voeg die sout, al die speserye en bakpoeier by die meelmengsel en meng goed.
  3. Smelt die coconut olie en voeg by die meelmengsel.
  4. Voeg die xylitol, eiers, grof gekapte neute en wortels by en meng goed.
  5. Skep in vooraf gesmeerde broodpannetjie en plaas in voorafverwarmde oond van 180 grade celsius.
  6. Bak vir 40 min of tot toetspen skoon uitkom.

Versiersuiker:

  1. Klits die roomkaas, room en xylitol saam tot lekker gemeng en styf.
  2. Smeer dit bo oor die afgekoelde wortelkoek en geniet saam met ‘n lekker koppie koffie of tee.
  3. Laat weet wat julle dink van die resep.

Sjokoladesmeer

sjokoladesmeerEk wou graag ‘n gesonder alternatief maak vir sjokolade smeer as die een wat ons in die winkel koop en gepak is met suiker wat so sleg is vir ons kinders en ons. Ek het toe met hierdie resep geëindig en my seuntjies het altwee geproe en daarvan gehou. Nou ja dit is seker waar die sukses aan gemeet kan word. Dit is baie eenvoudig en vinnig om te maak. Jy kan ook verskillende neute gebruik om die basis te maak. Ek het die goedkoper alternatief gebruik, naamlik sonneblomsaad. Hoop julle hou daarvan.

BESTANDELE

  • 1 koppie sonneblomsaad
  • 1/2 koppie amandels
  • 5 eetlepels olyf olie
  • knippie sout
  • 1 tot 2 eetlepels xylitol of heuning
  • 2 eetlepels kakao poeier

METODE

  1. Plaas die sonneblomsaad en amandels in voedselverwerker saam met die olyf olie en maak dit baie fyn, totdat dit ‘n pasta begin vorm.
  2. Voeg die sout, xylitol en kakao poeier by en meng nog ‘n paar minute met voedselverwerker tot lekker deurgemeng.
  3. Plaas dit in ‘n houer en geniet saam met ‘n lekker snytjie saadbrood of as ‘n smeer oor ‘n sjokoladekoek.

Spinasie quiche

Spinasie quicheMy suster van Moorreesburg het vir my heerlike vars spinasie uit haar tuin gebring en ek moes dit net gebruik terwyl dit nog so vars is en het besluit om  hierdie gereg te maak. Almal het baie lekker daaraan geeet en dit was maklik en vinnig om te maak. Dit is ‘n lekker vullende gereg. Ek dink ook dit kan koud of warm bedien word en ook as ‘n “souttert” . Hoop julle hou hiervan.

BESTANDELE

  • 1 ui fyngekap
  • 2 bossies vars spinasie
  • 350g maalvleis
  • 1 koppie room
  • 1 koppie gerasperde cheddarkaas
  • 4 eiers
  • sout en pepper na smaak
  • 1 knypie rooipepper
  • 2 knoffelhuisies fyngekap
  • 2 eetlepels coconut olie
  • 250g spek

METODE

  1. Spoel die spinasie goed af en sit blare in voedselverwerker en maak fyn.
  2. Braai ui in coconut olie tot sag en bruin.
  3. Voeg maalvleis, spek, sout en pepper en knoffel by en braai tot gaar.
  4. Klits die eiers en voeg die koppie room by.
  5. Voeg die fyngemaakte spinasie by die vleismengsel.
  6. Roer die geklitste eiers by die vleismengsel en voeg rooipepper en 3/4 koppie gerasperde kaas by.
  7. Gooi die mengsel in gesmeerde oondbak en gooi die oorblywende kaas bo oor.
  8. Plaas in voorafverwarmde oond van 180 grade celsius en bak vir 40 min tot goed gestol en lekker bruin bo-op.
  9. Haal uit en geniet saam met ‘n lekker groen slaai.

Hoender mayonnaise broodjie

hoender mayonnaise‘n Baie eenvoudige resep, maar dit was baie lekker om weer ‘n hoendermayonnaise broodjie te kon eet wat “banting” vriendelik is. Ek het die saadbroodjie resep gebruik en die banting vriendelike mayonnaise wat ek gekoop het by Caring Candies. Hoop julle geniet dit.

BESTANDELE

  • 2 hoenderborssies gaargemaak en in blokkies gesny
  • 100ml mayonnaise
  • 100ml bulgaarse volroom yoghurt
  • 1 ui fyngekap
  • 1/2 soetrissie fyngekap
  • 2 tamaties fyngekap
  • 1 knoffelhuisie fyngekap
  • 1 pietersielie tak fyngekap
  • sout en pepper na smaak
  • rooipepper indien verkies

METODE

  1. Meng alles behalwe mayonnaise en bulgaarse yoghurt, sout, pepper en rooipepper saam.
  2. Meng die bulgaarse youghurt en mayonnaise saam.
  3. Meng dit deur die hoendermengsel.
  4. Geur met sout en pepper en rooipepper.
  5. Sit dit op ‘n snytjie broodjie en geniet ‘n heerlike middagete of ligte aandete.